Найти книгу: "Goree"


Goree Goree

Автор: Adam Small

Год издания: 0000

Die drama, ’n liries en droomagtige maar tegelyk ook skreiend pynlike stuk oor herinnering en ongeregtigheid, is reeds in 1978 geskryf, in die hoogbloei van apartheid en twee jaar na die Soweto-opstand. Dit is etlike kere opgevoer, maar word nou die eerste keer gepubliseer. Dit is in wese ’n versetdrama, maar die artistieke krag en durende relevansie daarvan le in die wyse waarop dit wys hoe pynlik intiem verset en lojaliteit verstrengel is. Goree word gesien as Small se mees persoonlike letterkundige werk; hy het dit self beskryf as ’n gefiksionaliseerde outobiografie. Die titel van die teks is ook die naam van die gehuggie naby Robertson waar Small grootgeword het. Die drama gaan oor ’n bruin man wat ’n bom in ’n supermark geplant het en dan weens die terreurdaad verhoor en opgesluit word. Gedurende die verhoor en ook in sy tronksel tree hy deur middel van terugflitse in ’n voortdurende gesprek met die verlede, spesifiek met die sleutelmomente wat sy identiteit en sy verset bepaal het. Die klimaks van die drama is ’n gesprek – ’n konfrontasie – in die tronksel waaraan die aangehoudene, sy vrou en sy pa, sowel as die Afrikaanse bewaarder deelneem. Die klimaks wentel om die gewaarwording dat gevangene en bewaarder verdeel en saamgesnoer word deur dit wat hul onderskeie identiteite bepaal. Dit gaan hier om ons taal, ons kerk en ons grond. Dit is daarom so betekenisvol dat hierdie drama, wat aanvanklik in Engels geskryf is, nou in Afrikaans gepubliseer word. Die skrywer se verset teen sy onderwerping deur taalgenote word hierdeur die bevestiging van ’n grondliggende lojaliteit.