| Met Dubbeldoor word De Vries deel van die Sestiger-beweging deur in hierdie stadium in sy skrywerskap verhale te skryf wat Andre P. Brink “laagverhale” noem waarin die “magiese realisme” na vore kom. Hierdie beskrywing tipeer die verwikkelde wyse waarop De Vries daarin slaag om deur metafore veelvuldige betekenisse en simbole in sy verhale te impliseer, terwyl hy steeds die fyn waarneming en in-diepte sielkundige blootlegging van sy vroee verhale behou. In aanvulling tot sy gebruik van die plaaslike mense en wereld bring hy nou ook die Europese omgewing onder woord, soos in die titel van die bundel aangedui word, waar die dubbeldoor verwys na die vermenging van Europa en Afrika. Die titel kan egter ook betrekking he op die mengsel van tradisioneel-realistiese en magiese tipe verhale. |