| In sy jongste bundel kom ons weer onder die indruk van Breytenbach se skerpsinnige en aangrypende digterstem. Die titel verwys na die tyd digby die dood maar ook na die dood – vir Breytenbach ook Dina Dood – en roep op vernuwende wyses kenmerkende leitmotiewe op uit sy werk. Die digter is deurgaans bewus van die asimptotiese aard van skryf en tog word die verse ’n poging om die niesebare op te roep (“daar jou taak, leesskrywer, kyk:/ om die niet se oopgaanwond/ stekie vir stekie met woorde /toe te werk.”). Tegelykertyd bied die laatwerk ’n troos teen die dood wat wag, vir die digter en leser. Onthou word “’n bevrugting van die verlede”, en skryf uiteindelik “diep bevredigend/ om die laaste duisternis in jou asem te mag mond in Afrikaans”. “Dit is ’n besonderse versameling verse wat ’n groot verskeidenheid bied, oenskynlik oor die alledaagse, maar byna ongemerk ook oor die groot onbeantwoorde vrae wat elke mens vir hulself stel, nader aan die einde van die lewe.” Helize van Vuuren |