Ingrid Jonker Versamelde Werke
Автор: Ingrid Jonker
Год издания:
Hierdie gewilde en bekende digter se Versamelde Werke sluit in al haar gepubliseerde gedigte (bundels: Ontvlugting, Rook en oker, Kantelson) sowel as jeugwerk, vertalings deur haar, fragmente en opdragte, ’n drama, en haar kortverhale. Dit sluit ook in ’n oorsig van haar lewe en werk deur Jack Cope: “A Crown of Wild Olive”. Ten tyde van Ingrid Jonker se selfmoord, toe sy haar in die nag van 18 op 19 Julie 1965 verdrink het in die see by Drieankerbaai, Kaapstad, was sy een en dertig jaar oud. Daar het toe nog slegs twee digbundels van haar verskyn: ’n jeugwerk, Ontvlugting (1956), en, na vele vertragings, die veel geprese en bekroonde Rook en Oker in 1963. Na haar dood is ’n derde bundel, Kantelson, uitgegee. Verskeie uitgawes van haar Versamelde Werke (wat ook ongepubliseeerde gedigte, ’n drama en haar kortverhale insluit) het sedert 1975 verskyn, en Human & Rousseau se 1994-uitgawe word gereeld herdruk.
Ingrid Jonker se nalatenskap is klein maar betekenisvol, en het ’n groot invloed op die Afrikaanse digkuns en kultuur gehad. In die dekades sedert haar dood het sy ’n kultusfiguur geword, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Nederland. Van haar gedigte is reeds in meer as twaalf tale vertaal. ’n Versameling gedigte in Engels vertaal deur Jack Cope en William Plomer met die hulp van Laurens van der Post is in Brittanje en Suid-Afrika gepubliseer. In 2007 het ’n nuwe en meer volledige versameling gedigte in Engels verskyn, vertaal deur Antjie Krog en Andre Brink: Black Butterflies: Selected Poems. Daar is ook reeds verskeie films oor Ingrid Jonker se lewe vrygestel.
Ingrid Jonker: Versamelde gedigte
Автор: Ingrid Jonker
Год издания:
Dit is moeilik om nie deur die kort, onstuimige lewe van Ingrid Jonker geruk en gefassineer te word nie. Die versoeking is dus groot om haar Versamelde gedigte, wat jeugwerk, Ontvlugting (1956), Rook en oker (1963) en die postuum gepubliseerde Kantelson (1966) insluit, deur die lens van haar veelbewoe biografie te bekyk. Dit sou egter dwaas wees om hierdie dikwels sjarmante en speelse verse slegs te ondersoek soos ’n nuuskierige forensiese sielkundige wat die literere beendere van ’n lewe fynkam vir bewyse van sensasie en waansin. Sinvoller sou wees om in gedagte te hou dat Jonker aanvanklik betower het met haar digkuns en nie met haar politieke instellings of omstrede lewe nie. Lees Ingrid Jonker onbevange en jy word opnuut bekoor deur ’n onmiskenbare helder stem wat met kinderlike verwondering en ontsteltenis sing en huil van onskuld, skoonheid en verskrikking in gedigte wat goel met die aansteeklike en bedrieglike eenvoud van ’n kleuterrympie, maar spook soos duister voorbodes. Lees “Toemaar die donker man” weer met ’n oop gemoed en jy besef hoekom Jonker se woorde ongeag die psigodrama van haar lewe en dood aanhou eggo. Dit kom na jou soos ’n klassieke wiegelied waarin die troos van moederliefde net so waar en teenwoordig is as die oneindige nag daarbuite. Die verse in Versamelde gedigte is die steeds lewende, ademende bewys dat beduidende kunstenaars skep ten spyte van verlies, trauma en geestesongesteldheid en nie gewoon as direkte gevolg daarvan nie – anders sou goeie poesie so volop soos trane gewees het. – Danie Marais